Otto von Bismarck | |
Kanselier van die Duitse Keiserryk
| |
Ampstermyn 21 Maart 1871 – 20 Maart 1890 | |
Vise | Otto zu Stolberg-Wernigerode Karl Heinrich von Boetticher |
---|---|
Monarg | Wilhelm I Friedrich III Wilhelm II |
Voorafgegaan deur | Amp geskep |
Opgevolg deur | Leo von Caprivi |
Eerste Minister van Pruise
| |
Ampstermyn 9 November 1873 – 20 Maart 1890 | |
Monarg | Wilhelm I Friedrich III Wilhelm II |
Voorafgegaan deur | Albrecht von Roon |
Opgevolg deur | Leo von Caprivi |
Ampstermyn 23 September 1862 – 1 Januarie 1873 | |
Monarg | Wilhelm I |
Voorafgegaan deur | Adolf zu Hohenlohe-Ingelfingen |
Opgevolg deur | Albrecht von Roon |
Persoonlike besonderhede
| |
Gebore | 1 April 1815 Schönhausen, Pruise (tans Duitsland) |
Sterf | 30 Julie 1898 Friedrichsruh, Duitsland |
Politieke party | Onafhanklik |
Eggenoot/-note | Johanna von Puttkamer (1847–1894) |
Kind(ers) | 3 |
Religie | Lutheranisme |
Handtekening |
Otto Eduard Leopold von Bismarck-Schönhausen (sedert 1865 Graaf, sedert 1871 Prins von Bismarck-Schönhausen, sedert 1890 Hertog te Lauenburg) (* 1 April 1815 in Schönhausen; † 30 Julie 1898 in Friedrichsruh naby Hamburg) was ’n Duitse politikus wat grootliks vir die samesnoering van al die verskillende Duitse state tot een land verantwoordelik was. Hy was vir lank die eerste minister van Pruise, kanselier van die Noord-Duitse Verbond (1867–1871) en die eerste rykskanselier van die Duitse Keiserryk (1871–1890), bekend as die "Ysterkanselier".[1]
In Pruise het Bismarck in die kring van konserwatiewe politici aanvanklik bekendheid verwerf as 'n voorstander van die belange van die jonkers (of grootgrondbesitters) en het tydens die sogenaamde Reaksionêre Tydperk ná die Rewolusie van die jare 1848 en 1849 'n diplomatieke loopbaan gevolg (1851–1862). In 1862 is hy tot eerste minister van Pruise benoem.
Tydens die Pruisiese Grondwetlike Geskil het hy die monargiese stelsel teen die liberale magte verdedig. As minister van buitelandse sake het hy tydens die Duits-Deense Oorlog en die Duitse Oorlog tussen 1864 en 1866 die Pruisiese oorheersing van Duitsland verseker. Gedurende die Frans-Duitse Oorlog van 1870/1871 was Bismarck die drywende krag agter die sogenaamde Klein-Duitse rigting wat die Duitse kwessie deur die stigting van 'n Duitse keiserryk sonder insluiting van Oostenryk wou oplos.
Ná die stigting van die Duitse Keiserryk in 1871 het hy as rykskanselier en – met 'n klein onderbreking – as Pruisiese eerste minister tot met sy ontslag in 1890 groot invloed op die nuwe staat se beleid uitgeoefen. Ten opsigte van sy buitelandse beleid het hy geskille met ander moondhede met onderhandelde en vreedsame skikkings besleg en politieke ooreenkomste met ander Europese state aangegaan.
Sy binnelandse beleid kan ná die jaar 1866 in twee fases verdeel word. Aanvanklik het hy met gematigde liberales saamgewerk. Hierdie periode was deur talle politieke hervormings gekenmerk soos die invoering van die burgerlike huwelik, waarby hy die opposisie wat vanaf die kant van die Rooms-Katolieke Kerk gekom het tydens die sogenaamde "Kultuurstryd" (Duits: Kulturkampf) met drastiese maatreëls aangespreek het.
Vanaf die laat 1870's het Bismarck hom in toenemende mate van die liberales afgewend. Hierdie fase was deur die oorgang tot 'n beleid van invoerbeperkings en staatsintervensie in die ekonomie gekenmerk. In die 1880's is onderdrukkende wette teen die sosialistiese beweging in Duitsland ingestel. As gevolg van meningsverskille met keiser Wilhelm II, wat in 1888 die Duitse keisertroon bestyg het, moes Bismarck in 1890 bedank.
In die volgende jare het hy met die kritiek, wat hy op die beleid van sy opvolgers gelewer het, nog steeds 'n politieke rol gespeel. Veral met sy memoires, wat onder die titel Gedanken und Erinnerungen ("Gedagtes en herinneringe") verskyn en groot aandag getrek het, het hy groot invloed op die manier uitgeoefen waarmee die Duitse publiek hom waargeneem het.